Die eerste deel van Smeltkroes vertel die ware en hartroerende – en met tye angswekkende – verhale van André, Corline en Jana in ‘n lekker gemaklike leesstyl. Wat dié drie mense deurgemaak het, is skrikwekkend – maar tóg daaglikse gebeurtenisse in Suid-Afrika – en meeste lesers sal hulle met baie van dié gebeure kan vereenselwig. Drie vreemdelinge wat in God se smeltkroes saamgegooi word – en gelouer anderkant uitkom.
Die tweede deel het die skrywer werklikheid en fiksie op so ‘n geloofbare manier saamgegooi, dat die leser naderhand nie meer die waarheid van fiksie sal kan onderskei nie.
Al die bestanddele om Smeltkroes ‘n topverkoper te maak is daar – van die effek wat dwelms- en alkoholmisbruik daagliks op die man in die straat – en families – het, tot aksie, misdaad, spanning en romanse, maar die belangrikste is seker die geloof, hoop en liefde wat duidelik – soos ‘n silwer draadjie – regdeur die boek soos kwiksilwer vloei.
Maak jou veiligheidsgordel vas vir ‘n rowwe rit, want jy gaan nie nét ‘hoendervleis’ oomblikke beleef nie, maar ook hartseer, vreugde en ‘n lekker droë sin vir humor in dié aksieryke Christelike spanningsverhaal.